Eségiël 17:14-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. sodat die koninkryk van geringe betekenis sou wees en hom nie sou verhef nie, maar dat dit, deur sy verbond te onderhou, in stand kon bly.

15. Maar hy het teen hom in opstand gekom deur sy gesante na Egipte te stuur, dat hulle hom perde en baie manskappe sou gee. Sal hy voorspoedig wees? Sal hy ontvlug wat sulke dinge doen? Sal hy die verbond verbreek en tog ontvlug?

16. So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, in die plek waar die koning woon wat hom koning gemaak het, wie se eed hy geminag en wie se verbond hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterwe.

17. Ook sal Farao nie met hom saamspan in die oorlog met ’n groot leër en met baie mense nie, as hulle ’n wal opwerp en forte bou om baie siele uit te roei.

18. Want hy het die eed geminag deur die verbond te verbreek; en kyk, hy het sy hand gegee en tog al hierdie dinge gedoen; hy sal nie ontvlug nie.

19. Daarom, so sê die Here Here: So waar as Ek leef, Ek sal gewis my eed wat hy geminag het, en my verbond wat hy verbreek het, op sy hoof laat neerkom.

Eségiël 17