Deuteronómium 15:7-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. AS daar by jou ’n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die Here jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.

8. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.

9. Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby — en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na die Here roep, en dit sonde in jou word.

10. Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die Here jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.

11. Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.

12. As jou broer, ’n Hebreeuse man of ’n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman van jou laat weggaan.

13. En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie.

14. Jy moet hom ’n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer en jou wynpers; waarin die Here jou God jou geseën het, daarvan moet jy aan hom gee.

15. En jy moet daaraan dink dat jy ’n slaaf in Egipteland was, en dat die Here jou God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.

16. Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie — aangesien hy jou en jou huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou —

17. dan moet jy ’n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen.

Deuteronómium 15