Deuteronómium 12:2-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom.

3. En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.

4. So mag julle nie doen met die Here julle God nie;

5. maar die plek wat die Here julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom.

6. En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte- en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.

7. En daar moet julle voor die aangesig van die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die Here jou God jou geseën het.

8. Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie — elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.

9. Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die Here jou God jou sal gee nie.

10. Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die Here julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon.

11. Dan moet julle na die plek wat die Here julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die Here sal belowe.

12. En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die Here julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.

13. Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie.

14. Maar op die plek wat die Here in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel.

15. Maar na hartelus mag jy slag en vleis eet ooreenkomstig die seën van die Here jou God wat Hy jou in al jou poorte gee; die onreine en die reine mag daarvan eet, soos van die gemsbok en die takbok.

16. Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi.

17. Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie.

Deuteronómium 12