20. Maar Joab sê vir hom: Jy is nie vandag ’n man vir ’n boodskap nie, maar anderdag kan jy ’n boodskap bring — vandag mag jy nie die boodskap bring nie juis omdat die seun van die koning dood is.
21. Toe sê Joab vir die Kusiet: Gaan vertel die koning wat jy gesien het! En die Kusiet het voor Joab gebuig en gehardloop.
22. Maar Ahímaäs, die seun van Sadok, het nog ’n keer aan Joab gesê: Laat kom wat wil — laat my tog ook agter die Kusiet aan hardloop. En Joab vra: Waarom wil jy dan nou hardloop, my seun? Vir jou is daar tog geen boodskappersloon te kry nie.
23. Laat kom wat wil, sê hy, ek hardloop. En hy antwoord hom: Hardloop! En Ahímaäs het met die pad na die Jordaanstreek gehardloop en die Kusiet verbygegaan.
24. En terwyl Dawid tussen die twee poortingange sit, het die wag op die dak van die poort op die muur geklim; en toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens ’n man alleen hardloop.