2 Samuel 18:15-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En tien jongmanne, wapendraers van Joab, het nader gekom en Absalom doodgeslaan.

16. Daarop blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het omgedraai en Israel nie meer agtervolg nie, want Joab het die manskappe teruggehou.

17. Toe het hulle Absalom geneem en hom in die bos in ’n groot kuil gegooi en ’n baie groot hoop klippe bo-op hom gestapel, onderwyl die hele Israel elkeen na sy tent vlug.

18. En Absalom het gedurende sy lewe die gedenksteen wat in die koningsdal staan, geneem en vir homself opgerig met die woorde: Ek het geen seun om my naam in gedagtenis te hou nie; en hy het die gedenksteen na sy naam genoem, en dit word tot vandag toe genoem die gedenkteken van Absalom.

19. DAAROP sê Ahímaäs, die seun van Sadok: Laat my tog hardloop en aan die koning die goeie boodskap bring dat die Here aan hom reg verskaf het teenoor sy vyande.

20. Maar Joab sê vir hom: Jy is nie vandag ’n man vir ’n boodskap nie, maar anderdag kan jy ’n boodskap bring — vandag mag jy nie die boodskap bring nie juis omdat die seun van die koning dood is.

2 Samuel 18