5. Koning Salomo het naamlik die slagoffer van twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee geslag; en die koning en die hele volk het die huis van God ingewy,
6. terwyl die priesters op hulle poste gestaan het, ook die Leviete met die musiekinstrumente van die Here, wat koning Dawid gemaak het, om die Here te loof dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is, met die loflied van Dawid wat deur hulle voorgedra is. Intussen het die priesters teenoor hulle op die trompette geblaas, en die hele Israel het gestaan.
7. En Salomo het die middel van die voorhof geheilig wat voor die huis van die Here was; want daar het hy die brandoffers en die vetstukke van die dankoffers berei, omdat die koperaltaar wat Salomo gemaak het, die brandoffer en die spysoffer en die vetstukke nie kon bevat nie.
8. So het Salomo dan in dié tyd die fees gehou, sewe dae lank, en die hele Israel saam met hom, ’n baie groot vergadering, van die ingang na Hamat tot by die spruit van Egipte.
9. En op die agtste dag het hulle ’n feestyd gehou, want die inwyding van die altaar het hulle sewe dae lank gevier en die fees sewe dae lank.
10. En op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het hy die volk na hul tente laat gaan, verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat die Here aan Dawid en aan Salomo en aan sy volk Israel gedoen het.
11. En toe Salomo die huis van die Here en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die Here en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het,
12. verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ’n offerhuis verkies.
13. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur,