11. En hy het sy gesig strak na hom gerig totdat hy verleë was; en die man van God het geween.
12. Toe sê Hásael: Waarom ween my heer? En hy antwoord: Omdat ek weet watter kwaad jy die kinders van Israel sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard ombring en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny.
13. Maar Hásael sê: Wat is u dienaar, die hond, dat hy hierdie groot ding sou doen? En Elísa antwoord: Die Here het my jou laat sien as koning oor Aram.
14. Daarop het hy van Elísa af weggegaan, en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: Wat het Elísa vir jou gesê? En hy antwoord: Hy het vir my gesê: U sal sekerlik gesond word.
15. Maar die volgende dag het hy die bedsprei geneem en dit in die water gesteek en oor sy gesig uitgesprei, sodat hy gesterf het; en Hásael het in sy plek koning geword.