11. En die res van die volk wat in die stad oorgebly het, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.
12. Maar uit die armes van die land het die owerste van die lyfwag sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers.
13. Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die Here was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die Here was, stukkend gebreek en die koper daarvan na Babel weggevoer.
14. Ook het hulle weggeneem die potte en skoppe en messe en rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is.
15. En die owerste van die lyfwag het weggeneem die vuurpanne en die komme — wat van pure goud en van pure silwer was —
16. die twee pilare, die een see en die afspoelwaentjies wat Salomo vir die huis van die Here gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.