9. Maar in die vierde jaar van koning Hiskía — dit was die sewende jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel — het Salmanéser, die koning van Assirië, teen Samaría opgetrek en dit beleër;
10. en hulle het dit ingeneem aan die einde van drie jaar; in die sesde jaar van Hiskía — dit was die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel — is Samaría ingeneem.
11. En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat bly in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië;
12. omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die Here hulle God nie, maar sy verbond oortree het — alles wat Moses, die kneg van die Here, beveel het — sonder om daarna te luister en te handel.