2 Konings 13:7-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Voorwaar, hy het vir Jóahas geen manskappe laat oorbly nie, as net vyftig perderuiters en tien strydwaens en tienduisend voetgangers; want die koning van Aram het hulle omgebring en hulle gemaak soos stof as gedors word.

8. En die verdere geskiedenis van Jóahas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

9. En Jóahas het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe, en sy seun Joas het in sy plek koning geword.

10. In die sewen-en-dertigste jaar van Joas, die koning van Juda, het Joas, die seun van Jóahas, koning geword oor Israel in Samaría — sestien jaar lank.

11. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here; hy het nie afgewyk van al die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie; hy het daarin gewandel.

12. En die verdere geskiedenis van Joas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?

13. En Joas het ontslaap met sy vaders, en Jeróbeam het op sy troon gaan sit; en Joas is begrawe in Samaría by die konings van Israel.

14. EN toe Elísa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!

15. Daarop sê Elísa vir hom: Neem ’n boog en pyle. En hy het vir hom ’n boog en pyle geneem.

2 Konings 13