14. EN toe Elísa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!
15. Daarop sê Elísa vir hom: Neem ’n boog en pyle. En hy het vir hom ’n boog en pyle geneem.
16. En hy sê vir die koning van Israel: Sit jou hand aan die boog. En hy het sy hand aan die boog gesit; en Elísa het sy hande op die hande van die koning gelê.
17. Verder sê hy: Maak oop die venster na die ooste toe! En hy het dit oopgemaak. En Elísa sê: Skiet! En hy het geskiet. Toe sê hy: ’n Pyl van oorwinning van die Here en ’n pyl van oorwinning op Aram: jy moet die Arameërs volkome verslaan in Afek.
18. Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Israel: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou.
19. Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.