2 Konings 12:2-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die Here, al sy dae waarin die priester Jójada hom onderrig het.

3. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan.

4. En Joas het aan die priesters gesê: Al die geld wat as heilige gawes in die huis van die Here gebring word, gangbare geld, elkeen se personegeld waarvoor hy geskat is, en al die geld wat iemand vrywillig in die huis van die Here bring,

5. mag die priesters vir hulle neem, elkeen van sy bekende, en húlle moet die bouvallige plekke van die huis herstel waar ’n bouvallige plek ook al gevind word.

6. Maar toe in die drie-en-twintigste jaar van koning Joas die priesters die bouvallige plekke van die huis nie herstel het nie,

7. het koning Joas Jójada, die priester, en die priesters geroep en aan hulle gesê: Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke van die huis nie? Nou dan, julle moet geen geld van julle bekendes aanneem nie, maar dit gee vir die bouvallige plekke van die huis.

8. En die priesters het ingewillig om geen geld van die volk aan te neem nie en om die bouvallige plekke van die huis dan ook nie te herstel nie.

2 Konings 12