1 Konings 8:38-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

38. enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —

39. wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders —

40. sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

41. Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land ter wille van u Naam kom —

42. want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm — as hy kom en bid na hierdie huis toe,

43. wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

44. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die Here in die rigting van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

45. wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf.

46. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,

1 Konings 8