14. Hy was die seun van ’n weduvrou uit die stam van Náftali, en sy vader was ’n man van Tirus, ’n kopersmid; en hy was vol wysheid en verstand en kennis om allerhande werk in koper te maak. Hy het toe by koning Salomo gekom en al sy werk uitgevoer.
15. HY het naamlik die twee pilare van koper gevorm; agttien el was die hoogte van die een pilaar, en ’n lyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan.
16. En hy het twee kapitele gemaak om op die toppe van die pilare te sit, gietwerk van koper; vyf el was die hoogte van die een kapiteel, en vyf el was die hoogte van die ander kapiteel.
17. Daar was vlegwerke — die maaksel van die vlegwerk was gedraaide drade, ’n maaksel van kettinkies — vir die kapitele op die top van die pilare; sewe vir die een kapiteel en sewe vir die ander kapiteel.