40. Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag.
41. Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën!
42. En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek.
43. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer — sewe maal.
44. En die sewende maal roep hy: Daar gaan ’n wolkie soos ’n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie.