1 Konings 12:17-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor hulle was Rehábeam koning.

18. Toe stuur koning Rehábeam Adóram wat oor die dwangarbeid was, maar die hele Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het; en koning Rehábeam het hom tot die uiterste toe geweer om op ’n wa te klim, om na Jerusalem te vlug.

19. So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag toe.

20. Sodra die hele Israel gehoor het dat Jeróbeam terug was, het hulle hom na die vergadering laat roep en hom oor die hele Israel koning gemaak; niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen.

21. En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin, honderd-en-tagtigduisend strydbare jong manskappe, vergader om oorlog te voer teen die huis van Israel, om die koningskap vir Rehábeam, die seun van Salomo, terug te win.

22. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê:

23. Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê:

24. So spreek die Here: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die Here en weer teruggetrek volgens die woord van die Here.

25. En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou.

26. EN Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koningskap na die huis van Dawid terugkeer:

27. as hierdie volk opgaan om offers te bring in die huis van die Here in Jerusalem, dan sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehábeam, die koning van Juda, en hulle sal my om die lewe bring en teruggaan na Rehábeam, die koning van Juda.

28. Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem — hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het!

29. En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel.

30. En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan aanbid tot by Dan.

1 Konings 12